Frederik van Zyl Slabbert is al beskryf as die beste landsleier wat Suid-Afrika nooit gehad het nie.
As ’n uitstaande akademikus het hy in 1974 van beroep verander toe hy in dié jaar se parlementêre verkiesing die kiesafdeling Rondebosch vir die Progessiewe Party verower het. Na vyf jaar is hy as die jongste opposisieleier ooit aangewys.
Tot in 1986 het hy ’n belangrike rol in die formele Suid-Afrikaanse politiek gespeel. Hy het die trant van parlementêre diskoers tot ’n hoër vlak verhef en sorg gedra dat tersaaklike apartheidskwessies nie deur die die Nasionale Party omseil word nie. Op voetsoolvlak het hy tot gewone mense gespreek en ’n charismatiese invloed uitgestraal.
Te midde van stormagtige tye in Suid-Afrika was hy ’n liberale Afrikaner met ’n genuanseerde begrip van identiteit en ’n passie vir vernuwende politiek. Na sy uittrede uit die formele politiek in 1986, deels as gevolg van die verstardheid van die bestaande bestel, het hy in die soeke na demokratiese oplossings hom tot die buite parlementêre politiek gewend. Onder meer het dit tot die eerste grootskaalse ontmoeting tussen oorwegende Afrikaanse belanghebbendes en sekere African National Congress leiersfigure in Dakar in 1987 gelei. In post-apartheid Suid-Afrika het hy ’n fasiliterende rol gespeel en hom ook in die sakewêreld begewe.
Slabbert was ’n onafhanklike denker en in moeilke tye polities vooruitskouend met ’n afkeur in dogmatiese uitgangspunte. Hy het homself nooit die luukse van volkome sekerheid gegun nie. Hy was inderdaad ’n soekende profeet.
Met hierdie boek word gepoog om ’n gebalanseerde geheelbeeld van ‘n enigmatiese figuur te bied. Slabbert was nie iemand wat in die heldegalery van Suid-Afrika opgeneem is nie. Hyself sou dit ook nie so verkies het nie. Maar sy nalenskap, ook vir Afrikaanse mense, is nie daarom van mindere belang nie.
Share This eBook: